Die Kankerbossie

Botaniese naam

Sy volledige botaniese naam is Sutherlandia frutescens subspesie microphylla elite SU1 chemotype. Hy kry sy naam van James Sutherland wat die bossie  in die botaniese tuin in Edenburg, Skotland in 1863 gekweek het.

 

Volksnaam

Die bossie het met die jare bekend gestaan onder baie name, soos die kankerbossie, hoenderkloek, gansies, klapperpeultjie, bitterblaar, bitterbos, eendjiebos, gansbos, kalkoenbos, kiepiebos, kankerklappertjie,klapperbos en vigsbossie.


Voorkoms en kenmerke

‘n Mens vind die bossie veral in sandslote en waar hy nie versteur word nie groei hy tot 3,5meter hoog. Die plant verkies volson, met baie water in die winter. Dit blom van Julie tot Desember en het rooi ertjieagtige blommetjies. Dit kom wydverspreid voor in die binneland van Suid Afrika in die vlaktes, rante en gebiede van Botswana tot in die Karoo, vanaf Namibie tot Natal en vanaf Lesotho dwarsdeur die Vrystaat.

Dit word dikwels opgemerk op die skouers van die teerpaaie as ‘n hangende, koraalrooi ertjieagtige blommetjies met ‘n silwer grysgroen, harige loof. Hy is baie gehard, dit wil se dit gaan nie maklik dood nie. Die trosse rooi blomme word gou vervang deur opgeblase lang peule. Die peule is eers liggroen en as dit droog word is dit gryswit en voel soos papier. ‘n Maand later, as die peule droog is, ratel dit bekoorlik en behoorlik in die wind. Die peule val af en die klein ronde swart saadjies word dan orals deur die wind versprei.


Tradisionele gebruike

Die kankerbossie het ‘n lang geskiedenis as ‘n hoogs gewaardeerde komponent van die Suid Afrikaanse tradisionele geskiedenis. Dit is ‘n krui met ‘n diepgaande uitwerking op die liggaam-gees-energie-stelsel, dus ‘n kragtige tonikum vir die fisiese, geestelike en emosionele welstand van die mens. Dit lyk asof die natuur hierdie alles-in-een plant in Suid Afrika geskep het om die immuunstelsel te stimuleer, die angswerende en anti-depressante middel te wees asook om ekstra energie te verskaf.

Dit is deur die inheemse volke vir duisende jare gebruik vir kroniese en akute maagkwale. Die Khoi en Namamense het ‘n tee gekook van die takkies en blare en dit dan gebruik vir kanker en om wonde te ontsmet. Die vruggies is gekou vir maagkwale en ander kwale soos verkoues, niersiektes, borsinfeksies, inflammasie, spatare, suikersiekte, waterpokkies, lewerprobleme, rumatiek, en rugpyn.
 

Hedendaagse gebruike

Dit kan tans in pilvorm oor die toonbank in apteke en gesondheidswinkels verkry word en word gebruik vir:

  • Behandeling van kanker.
  • Immuun ondersteuning by behandeling van VIGS.
  • Gehalte-van-lewe tonikum veral vir kanker en tuberkulose pasiente.
  • Eetlus stimulant.
  • Virale Hepatitis asma en brongitis.
  • Yuppie griep.
  • Tipe 2 diabetes.
  • Stres, Depressie en Angs.
  • Genikologiese probleme.
  • Rugpyn.
  • Rumatiek.
  • Koors.
  • Bloedsuiwering.
  • Ooginfeksie.
  • Behandeling van wonde.
 

Kankerbossie en HIV/VIGS

Die gebruik van die kankerbossie in die geval van HIV lei tot verbetering van die lewensgehalte deur die verbetering van eetlus, gewigstoename, verbeterde slaap, verminderde angs en algehele gevoel van gesondheid. Dit is deeglik bewys deur die navorsers.

 
Navorsers doen deeglike navorsing op hierdie plant en meen dat die gebruik van die kankerbossie die ontwikkeling van HIV in VIGS sal vertraag en hulle hoop op ‘n deurbraak van algehele herstel van die siekte. Hulle is van mening dat die kankerbossie voortdurend gebruik sal moet word met ook deeglike toesig oor die dieet van die pasient. 

Saam met die gebruik van die kankerbossiepille moet alkohol, dwelms en ander medisyne, wat nie voorgeskryf is nie, totaal vermy word, maar dit is ‘n klein prys om te betaal vir feitlik onmiddelike verbetering in die lewensgehalte van die pasient.